Doeltreffende energiegebruik

'n Spiraal-tipe geïntegreerde kompakte fluoresseerlamp, wat gewild is onder die Noord-Amerikaanse verbruikers sedert sy bekendstelling in die middel-1990's.

Doeltreffende energiegebruik, soms net genoem energiedoeltreffendheid, het ten doel om die hoeveelheid energie te verminder wat nodig is om voorsiening te maak vir produkte en dienste. Om 'n huis te isoleer byvoorbeeld, kan minder verhittings- en verkoelingsenergie gebruik om 'n gemaklike temperatuur te handhaaf. Die installering van buisligte, LED-ligte of natuurlike dakvensters verminder die hoeveelheid energie wat nodig is om dieselfde vlak van beligting te bereik as met die gebruik van tradisionele gloeilampe. Verbeterings in energiedoeltreffendheid word oor die algemeen bereik deur 'n meer doeltreffende tegnologie of produksieproses[1] te gebruik of deur die toepassing van algemeen aanvaarde metodes om energieverliese te verminder.

Daar is baie motiverings om energiedoeltreffendheid te verbeter. Verminderde energiegebruik verminder die koste van energie en kan lei tot kostebesparing vir verbruikers as dit vergoed vir addisionele koste met die implementering van 'n energiedoeltreffende tegnologie. Die vermindering van energiegebruik word ook gesien as 'n oplossing vir die probleem van die vermindering van kweekhuisgasse. Volgens die Internasionale Energie-Agentskap, kan verbeterde energiedoeltreffendheid in geboue, industriële prosesse en vervoer die wêreld se energiebehoeftes in 2050 met 'n derde verminder en help met die beheer van die wêreldwye vrystelling van kweekhuisgasse.[2]

Energiedoeltreffendheid en hernubare energie is die twee pilare van 'n volhoubare energiebeleid[3] en het 'n hoë prioriteit in die volhoubare energie-hiërargie. In baie lande word energiedoeltreffendheid ook gesien as 'n nasionale sekuriteitsvoordeel omdat dit die vlak van energie-invoere uit die buiteland kan beperk en die tempo waarteen binnelandse energiehulpbronne uitgeput word, kan vertraag.

  1. Diesendorf, Mark (2007).
  2. Sophie Hebden (22 Junie 2006). "Invest in clean technology says IEA report". Scidev.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 September 2007. Besoek op 16 Julie 2010.
  3. Prindle, Bill; Eldridge, Maggie; Eckhardt, Mike; Frederick, Alyssa (Mei 2007). The twin pillars of sustainable energy: synergies between energy efficiency and renewable energy technology and policy. Washington, DC, USA: American Council for an Energy-Efficient Economy (ACEEE). Besoek op 3 April 2016.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search